Sarasene is ’n naam wat Christelike skrywers in die Middeleeue gebruik het vir hoofsaaklik Arabiese Moslems, maar ook Turke of ander Moslems.
Die betekenis van die term het deur die geskiedenis verander. In die vroeë eeue van die Christelike tydperk het Griekse en Latynse skrywers die term gebruik om te verwys na die mense wat in die woestyngebiede in en naby die Romeinse provinsie Arabia Petraea gewoon het, asook in die woestyngebied van die Arabiese Skiereiland.[1][2][3] In die Middeleeue is die term in Europa vereenselwig met die stamme van Arabië.[4] Die oudste bekende bron wat "Sarasene" noem in verband met Islam dateer van die 7de eeu. Dit is gevind in Doctrina Jacobi, ’n kommentaarstuk oor verowerings deur Moslems in die Levant.[5]
Teen die 12de eeu het die term in Latynse geskrifte sinoniem met "Moslem" geword. So ’n uitbreiding van die betekenis van die term het eeue vroeër reeds begin onder die Bisantynse Grieke, soos gesien kan word in dokumente van die 8ste eeu.[1][6][7] Tot met die 16de eeu is "Sarasene" in Westerse tale algemeen gebruik om na Moslemse Arabiere te verwys; die terme "Moslem" en "Islam" is nie eintlik gebruik nie, met enkele uitsonderings na.[8] Die term het geleidelik in onbruik verval ná die ontdekkingseeu.